Ons Glo

Sewende-dag Adventiste aanvaar die Bybel as die enigste bron van ons oortuigings. Ons beskou ons beweging as die resultaat van die Protestantse oortuiging Sola Scriptura – die Bybel as die enigste standaard van geloof en praktyk vir Christene.

Adventiste hou tans 28 fundamentele oortuigings wat in ses kategorieë georganiseer kan word: die leerstellings van God, die mens, die verlossing, die kerk, die Christelike lewe en die eindtyd gebeure. In elke leer is God die argitek wat in wysheid, genade en oneindige liefde ‘n ewigdurende verhouding met die mensdom herstel.

1. Die Heilige Skrif

Die Heilige Skrif, Ou- en Nuwe Testament beslaan die geskrewe Woord van God, deur middel van Goddelike ingewing gegee deur heilige mense van God wat gespreek en geskryf het soos hulle deur die Heilige Gees gedrywe is. In hierdie Woord het God die noodsaaklike kennis vir die saligheid aan die mensdom toevertrou. Die Heilige Skrif is die onfeilbare openbaring van Sy wil. Dit is die karakterstandaard, die toets van ondervinding, die gesaghebbende openbaring van leerstelings en die betroubare verslag van die dade van God deur die geskiedenis (II Pet. 1:20, 21; II Tim. 3:16, 17; Ps. 119:105; Spr. 30:5, 6; Jes. 8:20; Joh. 17:17; I Thess. 2:13; Heb. 4:12).

2. Die Drie-eenheid

Daar is een God: Vader, Seun en Heilige Gees, ‘n eenheid van drie mede-ewige Persone. God is onsterflik, almagtig, alwetend, alomteenwoordig en die Allerhoogste. Hy is oneindig en buite die begripsvermoë van die mens, tog bekend deur Sy self-openbaring. Hy is vir altyd die aanbidding, verering en diens van die hele skepping waardig (Deut. 6:4; Matt. 28:19; II Kor. 13:14; Efe. 4:4-6; I Petrus1:2; I Tim. 1:17; Openb. 14:7).

3. Die Vader

God die ewige Vader is die Skepper, Bron, Onderhouer, en Heerser van die ganse skepping. Hy is regverdig en heilig, barmhartig, genadig, lankmoedig, oorvloedig in onwankelbare liefde en trou. Die deugde en eienskappe wat in die Seun en die Heilige Gees toon, is ook openbarings van die Vader (Gen. 1:1; Openb. 4:11; I Kor. 15:28; Joh. 3:16; I Joh. 4:8; I Tim. 1:17; Ex. 34:6,7; Joh. 14:9).

4. Die Seun

God die ewige Seun het in Jesus Christus vlees geword. Deur Hom is alle dinge geskep, word God se karakter geopenbaar, die verlossing van die mensdom volbring, en die wêreld geoordeel. As die ewige, werklike God, het Hy ook werklik mens, Jesus die Christus, geword. Hy is deur die Heilige Gees verwerk en uit die maagd Maria gebore. Hy het soos ‘n mens gelewe en versoeking ervaar, maar die geregtigheid en liefde van God volmaak uitgeleef. Deur Sy wonderwerke het Hy God se krag geopenbaar en is Hy as die beloofde Messias van God bevestig. Hy het vrywillig in ons plek vir ons sondes aan die kruis gely en gesterf, is uit die dode opgewek, en het opgevaar om in die hemelse heiligdom vir ons in te tree. Hy sal in heerlikheid terugkeer vir die finale verlossing van Sy volk en die herstel van alle dinge (Joh. 1:1-3, 14; Kol. 1:15-19; Joh. 10:30; 14:9; Rom. 6:23; II Kor. 5:17-19; Joh. 5:22; Luk. 1:35; Fil. 2:5-11; Heb. 2:9-18; I Kor. 15:3, 4; Heb. 8:1, 2; Joh. 14:1-3).

5. Die Heilige Gees

God die ewige Gees was aktief saam met die Vader en die Seun aktief betrokke by die skepping, vleeswording, en verlossing. Hy het die skrywers van die Skrif geïnspireer. Hy het Christus se lewe met krag gevul. Hy trek mense aan en oortuig hulle; en diegene wat reageer, hernu en verander Hy na die beeld van God. Hy is deur die Vader en die Seun gestuur om altyd by Sy kinders te wees. Hy gee geestelike gawes aan die Kerk, versterk dit om van Christus te getuig, en, in ooreenstemming met die Skrif, lei dit in die hele waarheid (Gen. 1:1,2; Luk. 1:35; 4:18; Hand. 10:38; II Pet.1:21; II Kor. 3:18; Efe. 4:11, 12; Hand. 1:8; Joh. 14:16-18, 26; 15:26, 27; 16:7-13).

6. Die Skepping

God is die Skepper van alle dinge, en het in die Skrifte die egte weergawe van Sy skeppingsdade geopenbaar. In ses dae het die Here die hemel en die aarde en alle lewende dinge op die aarde gemaak, en op die sewende dag van daardie eerste week gerus. So het Hy die Sabbat as ‘n ewige gedenkteken van Sy voltooide skeppingswerk ingestel. Die eerste man en die eerste vrou is na die beeld van God gemaak as die kroon van die Skepping; aan hulle is heerskappy oor die aarde gegee, en hulle is beveel om daarvoor te sorg. Nadat die wereld voltooi is, was dit baie goed, en het dit die heerlikheid van God verkondig (Gen. 1; 2; Ex. 20:8-11; Ps. 19:1-6; 33:6, 9; 104; Heb. 11:3).

7. Die Menslike Natuur

Die man en die vrou is na die beeld van God geskape, met individualiteit en die vermoë om te dink en te doen. Alhoewel hulle as vrye wesens geskape is, is elkeen ‘n onverdeelbare eenheid van liggaam, verstand en siel wat van God afhanlik is vir die lewe, asem en alle ander dinge. Toe ons eerste ouers ongehoorsaam aan God was, het hulle hul afhanklikheid van Hom ontken, en van hul hoë posisie onder God in sonde geval. Die beeld van God in hulle is geskend en hulle het aan die dood onderworpe geword. Hulle nakomgelinge deel in hierdie gevalle natuur en die gevolge daarvan. Hulle word met swakhede en sondige neigings gebore. Maar in Christus het God die wêreld  met Homself versoen, en Sy Gees herstel in berouvolle sterflinge die beeld van hul Skepper.  Hulle is vir God se verheerliking geskape, en word opgeroep om Hom en mekaar lief te hê en om vir hul omgewing te sorg (Gen. 1:26-28; 2:7; Ps. 8:4-8; Hand. 17:24-28; Gen. 3; Ps. 51:5; Rom. 5:12-17; II Kor. 5:19,20; Ps. 51:10; I Joh. 4:7,8,11,20; Gen. 2:15).

8. Die Grootstryd

Die ganse mensdom is nou betrokke in ‘n stryd tussen Christus en Satan betreffende God se karakter, Sy wet, en Sy heerskappy oor die heelal. Hierdie konflik het in die hemel ontstaan toe ‘n geskape wese, toegerus met die vryheid van keuse, in selfverheffing die Satan, God se vyand, geword het, en ‘n deel van die engele tot opstand gelei het. Hy het die gees van opstand aarde toe gebring toe hy Adam en Eva laat sondig het. Die gevolg van hierdie menslike sonde was die skending van God se beeld in die mens , die ontwrigting van orde in die geskape wêreld, en uiteindelike vernietiging daarvan met die wêreldwye sondvloed. Ten aanskoue van die ganse heelal het hierdie aarde die arena van universele konflik geword, waaruit die God van liefde se karakter uiteindelik geregverdig sal word. Om Sy volk in hierdie groot stryd by te staan, stuur Christus die Heilige Gees en die lojale engele om hulle op die weg van verlossing te lei, te beskerm, en te ondersteun (Openb. 12:4-9; Jes. 14:12-14; Ese. 28:12-18; Gen. 3; Rom. 1:19-32; 5:12-21; 8:19-22; Gen. 6:8; II Petrus 3:6; I Kor. 4:9; Heb. 1:14).

9. Die Lewe, Dood en Opstanding van Christus

Christus het volkome gehoorsaam aan die wil van God geleef; daardeur het God die enigste versoenmiddel vir menslike sonde voorsien, sodat diegene wat hierdie versoening in geloof aanneem, die ewige lewe kan hê en sodat die hele skepping die oneindige, en heilige liefde van die Skepper beter kan verstaan. Hierdie volkome versoening regverdig die geregtigheid van God se wet en die barmhartigheid van Sy karakter; dit veroordeel ons sonde terwyl dit ook voorsiening maak vir ons vergifnis. Christus se dood is plaasvervangend en boetend, versoenend en hervormend. Die opstanding verkondig God se oorwinning oor die magte van die boosheid, en vir diegene wat die versoening aanvaar, verseker dit hul uiteindelike oorwinning oor sonde en die dood. Dit verklaar die Heerskappy van Jesus Christus, voor wie elke knie in die hemel en op aarde sal buig (Joh. 3:16; Jes. 53; I Pet. 2:21, 22; I Kor. 15:3, 4, 20-22; II Kor. 5:14, 15; 19-21; Rom. 1:4; 3:25; 4:25; 8:3, 4; I Joh. 2:2; 4:10; Kol. 2:15; Fil. 2:6-11).

10. Verlossing

Deur God se oneindige liefde en genade het Christus, wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons geword, sodat ons in Hom geregverdig kan word. Die Heilige Gees lei ons om ons behoefte te besef, ons sondigheid te erken, berou te hê oor ons oortredinge en ons geloof te beoefen in Jesus as Here en Christus, as ons Plaasvervanger en ons Voorbeeld. Hierdie reddende geloof kom deur die Goddelike krag van die Woord en is ‘n gawe van God se genade. Deur Christus is ons geregverdig, aangeneem as seuns en dogters van God en verlos van die heerskappy van die sonde. Deur die Gees is ons wedergebore en geheilig; die Gees hernu ons verstand, skryf God se wet van liefde op ons harte, en gee ons die krag om ‘n heilige lewe te lei. As ons in Hom bly, word ons deelgenote aan die Goddelike natuur en het ons die versekering van verlossing nou en met die oordeel (II Kor. 5:17-21; Joh. 3:16; Gal. 1:4; 4:4-7; Tit. 3:3-7; Joh. 16:8; Gal. 3:13, 14; I Pet. 2:21, 22; Rom. 10:17; Luk. 17:5; Mar. 9:23, 24; Efe. 2:5-10; Rom. 3:21-26; Kol. 1:13, 14; Rom 8:14-17; Gal. 3:26; Joh. 3:3-8; 1 Pet. 1:23; Rom. 12:2; Heb. 8:7-12; Ese. 36:25-27; II Pet. 1:3, 4; Rom. 8:1-4; 5:6-10).

11. Om in Christus te Groei

Jesus het met Sy kruisdood oor die mag van die bose getriomfeer. Tydens Sy aardse bediening het Hy die demoniese geeste onderwerp, hul mag verbreek en hul uiteindelike lot verseker. Jesus se oorwinning gee ons die oorwinning oor die bose magte wat steeds poog om ons te beheer, want ons wandel saam met Hom in vrede, vreugde en die versekering van Sy liefde. Die Heilige Gees woon nou in ons en bemagtig ons. Deur ons volgehoue oorgawe aan Jesus as ons Verlosser en Heer, word ons kwytgeskeld van die las van ons dade. Ons lewe nie meer in duisternis, vrees vir bose magte, onkunde of ‘n betekenlose bestaan nie. In hierdie nuwe vryheid wat Jesus bied, word ons opgeroep tot wasdom volgens die beeld van Sy karakter, om daagliks tot Hom te bid, Sy Woord en Sy voorsienigheid te bepeins, Hom te loof, te vergader vir aanbidding en om deel te neem aan die sending van die Kerk. Namate ons onsself in liefdesdiens aan andere gee en van Sy verlossing getuig, word elke oomblik en elke taak, deur die teenwoordigheid van Sy Gees, in ‘n geestelike ondervinding verander (Ps. 1:1, 2; 23:4; 77:11, 12; Kol. 1:13, 14; 2:6, 14, 15; Luk. 10:17-20; Efe. 5:19, 20; 6:12-18; I Tess. 5:23; II Pet. 2:9; 3:18; II Kor. 3:17, 18; Fil. 3:7-14; I Tess. 5:16-18; Matt. 20:25-28; Joh. 20:21; Gal. 5:22-25; Rom. 8:38, 39; I Joh. 4:4; Heb. 10:25).

12. Die Kerk

Die Kerk is die gemeenskap van gelowiges wat Jesus Christus as Heer en Verlosser betuig. Nes die volk van God in die Ou-Testamentiese tye, word ons uit die wêreld uitgeroep; ons vergader om te aanbid, vir gemeenskap, vir onderrig in die Woord, vir die viering van die Nagmaal, vir diens aan die ganse mensdom en vir die wêreldwye verkondiging van die Evangelie. Die Kerk ontvang gesag van Christus, die vleesgeworde Woord, en uit die Skrif, die geskrewe Woord is. Die Kerk is die huishouding van God; as Sy aangenome kinders, lewe die lede volgens van die nuwe verbond. Die Kerk is die liggaam van Christus, ‘n gemeenskap van gelowiges waarvan Christus self die Hoof is. Die Kerk is die bruid vir wie Christus gesterf het sodat Hy haar kan heilig maak en reinig. Met Sy triomfante terugkeer sal Hy haar as verheerlikte kerk voor Hom stel, die getroues van alle eeue, die vrygekooptes deur Sy bloed, sonder vlek of rimpel; heilig en sonder gebrek (Gen. 12:3; Hand. 7:38; Efe. 4:11-15; 3:8-11; Matt. 28:19, 20; 16:13-20; 18:18; Efe. 2:19-22; 1:22, 23; 5:23-27; Kol. 1:17, 18).

13. Die Oorblyfsel en Haar Missie

Die universele Kerk bestaan uit al diegene wat waarlik in Christus glo, maar in die laaste dae – ‘n tyd van wydverspreide afvalligheid – word ‘n oorblyfsel uitgeroep wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar. Die oordeelsuur, verlossing deur Christus en Sy Tweede Koms word deur die oorblyfsel verkondig. Hierdie verkondigings word deur die drie engele van Openbaring 14 gesimboliseer; dit vind plaas tydens die oordeelswerk in die hemel en lei tot bekering en hervorming op die aarde. Elke gelowige word geroep om ‘n persoonlike deel aan hierdie wêreldwye getuienis te hê (Openb. 12:17; 14:6-12; 18:1-4; II Kor. 5:10; Jud. 3, 14; I Pet. 1:16-19; II Pet. 3:10-14; Openb. 21:1-14).

14. Eenheid in die Liggaam van Christus

Die kerk is een liggaam met baie lede uit elke nasie, stam, taal en volk. In Christus is ons nuwe skepsel; verskille van ras, kultuur, geleerdheid, nasionaliteit, rykdom en geslag moet nie verdeeldheid onder ons veroorsaak nie. Ons is almal gelyk in Christus, wat ons deur een Gees saamgebind het tot een gemeenskap met Hom en met mekaar; ons moet dien en bedien word sonder begunstiging of terughouding. Deur die openbaring van Jesus Christus in die Skrif is ons deelgenote aan dieselfde geloof en hoop, en lewer ons een getuienis voor almal. Hierdie eenheid het sy oorsprong in die eenheid van die drie-enige God, wat ons as Sy kinders aangeneem het (Rom. 12:4, 5; I Kor. 12:12-14; Matt. 28:19, 20; Ps. 133:1; II Kor. 5:16, 17; Hand. 17:26, 27; Gal. 3:27, 29; Kol. 3:10-15; Efe. 4:14-16; 4:1-6; Joh. 17:20-23.-23).

15. Die Doop

Deur die doop bely ons ons geloof in die dood en opstanding van Jesus Christus, en getuig ons van ons dood tot die sonde en ons voorneme om in ‘n nuwe lewe te wandel. So erken ons Christus as Heer en Verlosser, word ons Sy volk, en word ons as lede deur Sy kerk aangeneem. Die doop is ‘n simbool van ons eenheid met Christus, die vergifnis van ons sondes, en ons aanvaarding van die Heilige Gees. Dit geskied deur onderdompeling in water en is afhanklik van ‘n bevestiging van geloof in Jesus en die bewys van berou oor sondes. Dit volg op aanvaarding van wat die Skrif leer (Rom. 6:1-6; Kol. 2:12, 13; Hand. 16:30-33; 22:16; 2:38; Matt. 28:19, 20).

16. Die Nagmaal

Die Nagmaal verteenwoordig deelname aan die liggaam en bloed van Jesus as ‘n uitdrukking van geloof in Hom, ons Here en Verlosser. Christus is tydens hierdie gemeenskaplike belewenis teenwoordig om Sy volk te ontmoet en te versterk. Wanneer ons daaraan deelneem, verkondig ons met blydskap die Here se dood, totdat Hy weer kom. Voorbereiding vir die Avondmaal sluit selfondersoek, berou en belydenis in. Die Meester het die diens van die voetewassing ingestel om hernude reiniging voor te stel, ‘n gewilligheid te toon om mekaar met Christelike nederigheid te dien, en om ons harte in liefde te verenig. Die Nagmaal is oop vir alle gelowige Christene (I Kor. 10:16, 17; 11:23-30; Matt. 26:17-30; Openb. 3:20; Joh. 6:48-63; 13:1-17).

17. Geestelike Gawes en Bediening

In elke eeu, aan al die lede van Sy kerk, skenk God geestelike gawes wat deur elke lidmaat gebruik moet word in liefdevolle diens vir die gesamentlike voordeel van die kerk en die mensdom. Deur middel van die Heilige Gees, wat aan elkeen gee soos Hy wil, verskaf die gawes al die bekwaamhede en dienste wat die kerk benodig om haar godgewyde funksies te volbring. Skriftelike gawes sluit in geloof, gesondmaking, profesie, verkondiging, lering, administrasie, versoening, medelyde en selfopofferende diens en liefdadigheid om andere te help en te bemoedig. Sommige word deur God geroep en deur die Gees toegerus vir pastorale, evangelisasie, apostoliese en onderrigtende dienste wat in die besonder nodig is om weer ander lidmate vir diens toe te rus, en sodoende die kerk tot geestelike volwassenheid op te bou en geloofseenheid en kennis van God te koester. Wanneer lidmate hierdie geestelike gawes gebruik as getroue rentmeesters van God se veelsydige genade, word die kerk teen die vernietigende invloed van valse leerstellings beskerm, ontwikkel dit deur godgegewe groei, en word dit in geloof en liefde gevestig (Rom. 12:4-8; I Kor. 12:9-11, 27, 28; Efe. 4:8, 11-16; Hand. 6:1-7; I Tim. 3:1-13; I Pet. 4:10, 11).

18. Die Gawe van Profesie

Een van die gawes van die Heilige Gees is profesie. Hierdie gawe is een van die kenmerke van die oorblyfselkerk en word in die bediening van Ellen G. White geopenbaar. As boodskapper van die Here, is haar geskrifte ‘n voortdurende en gesaghebbende bron van waarheid en voorsien dit die kerk van vertroosting, leiding, onderrig en teregwysing. Dit leer ook duidelik dat die Bybel die maatstaf is waarvolgens alle lering en ondervinding getoets moet word (Joël 2:28, 29; Hand. 2:14-21; Heb. 1:1-3; Openb. 12:17; 19:10).

19. Die Wet van God

Die groot beginsels van God se wet word in die Tien Gebooie omvat en deur Christus uitgeleef. Dit betuig die liefde, wil en doel van God met betrekking tot verpligtinge menslike gedrag en verhoudings deur alle eeue heen. Hierdie beginsels is die grondslag van God se verbond met Sy volk en die maatstaf van Sy oordeel. Deur die bemiddeling van die Heilige Gees wys dit sonde uit en kweek dit ‘n bewustheid van die behoefte aan ‘n Verlosser. Verlossing is enkel uit genade en nie uit werke nie, maar die vrug daarvan is gehoorsaamheid aan die Gebooie. Hierdie gehoorsaamheid ontwikkel die Christelike karakter en lei tot ‘n gevoel van persoonlike welstand. Dit bewys dat ons die Here liefhet en dat ons oor ons medemense besorgd is. Die gehoorsaamheid van geloof bewys hoe die krag van Christus lewens kan verander, en om dié rede versterk dit die Christelike getuienis (Exod. 20:1-17; Ps. 40:7, 8; Matt. 22:36-40; Deut. 28:1-14; Matt. 5:17-20; Heb. 8:8-10; Joh. 15:7-10; Efe. 2:8-10; I Joh. 5:3; Rom. 8:3, 4; Ps. 19:7-14).

20. Die Sabbat

Na ses dae van skeppingswerk het die welddadige Skepper op die sewende dag gerus en die Sabbat vir alle mense as gedenkteken van die Skepping ingestel. Die vierde gebod van God se onveranderlike wet vereis dat die sewendedag-Sabbat as ‘n dag van rus, aanbidding en bediening gevier moet word in ooreenstemming met wat Jesus, die Here van die Sabbat, geleer en gedoen het. Die Sabbat is ‘n dag van genotvolle gemeenskap met God en met mekaar. Dit is ‘n simbool van ons verlossing in Christus, ‘n teken van ons heiliging, ‘n bewys van ons trou en ‘n voorsmaak van ons ewige toekoms in die koninkryk van God. Die Sabbat is God se voortdurende teken van Sy ewige verbond met Sy volk. Die vreugdevolle onderhouding van hierdie heilige tyd van aand tot aand, sononder tot sononder, is ‘n viering van die skeppings- en die reddingsdaad van God (Gen. 2:1-3; Ex. 20:8-11; Luk. 4:16; Jes. 56:5, 6; 58:13, 14; Matt. 12:1-12; Ex. 31:13-17; Ese. 20:12, 20; Deut. 5:12-15; Heb. 4:1-11; Lev. 23:32; Mar. 1:32).

21. Rentmeesterskap

Ons is God se rentmeesters, deur Hom toevertrou met tyd en geleenthede, bekwaamhede en besittings, en die seëninge van die wêreld en alle aardse bronne; ons is aan Hom verantwoordelik vir hul behoorlike gebruik. Ons erken Sy eienaarskap deur getroue diens aan Hom en ons medemens, en deur tiendes en offergawes terug te gee aan Hom vir die verkondiging van Sy evangelie en die ondersteuning en uitbreiding van Sy Kerk. Rentmeesterskap is ‘n godgegewe voorreg vir liefdevolle versorging en die oorwinning oor selfsug en hebsug. As gevolg van sy getrouheid, verbly die rentmeester hom in die seëninge wat ander ontvang(Gen. 1:26-28; 2:15; I Kron. 29:14; Hag. 1:3-11; Mal. 3:8-12; I Kor. 9:9-14; Matt. 23:23; II Kor. 8:1-15; Rom. 15:26, 27).

22. Christelike Gedrag

Ons word geroep om ‘n Goddelike volk te wees wat in ooreenstemming met die hemelse beginsels  dink, voel en handel. Vir die Gees om ons Heer se karakter in ons te herskep, moet ons ons slegs bemoei met dinge wat reinheid, gesondheid en vreugde in ons lewens sal bewerkstellig. Dit beteken dat ons vermaaklikhede en pret die hoogste standaard van Christelike smaak en skoonheid moet nakom. Terwyl ons kulturele verskille erken, is ons kleredrag eenvoudig, beskeie en netjies, en toon dit dat ware skoonheid nie uit uiterlike versiering bestaan nie, maar uit die onverganklike versiering van ‘n sagmoedige en stille gees. Dit beteken ook, omdat ons liggame die tempels van die Heilige Gees is, dat ons hulle op ‘n intelligente wyse moet versorg. Saam met voldoende oefening en rus, moet ons die gesondste dieet moontlik volg en ons van onreine voedsel onthou soos in die Skrif uitgewys. Aangesien alkoholiese drank, tabak, en die onverantwoordelike gebruik van dwelm- en verdowingsmiddels skadelik vir ons liggame is, moet ons ons daarvan ook weerhou. Pleks daarvan moet ons ons besig hou met gedrag wat ons gedagtes en liggame onder die dissipline van Christus plaas, aangesien Hy heilsaamheid, geluk en goedheid vir ons begeer (Rom. 12:1, 2; I Joh. 2:6; Efe. 5:1-21; Fil. 4:8; II Kor. 10:5; 6:14-7:1; I Pet. 3:1-4; I Kor. 6:19, 20; 10:31; Lev. 11:1-47; III Joh. 2).

23. Die Huwelik en die Gesin

Die huwelik is in Eden deur God ingestel en deur Jesus bevestig as ‘n lewenslange verbintenis en liefdevolle kameraadskap tussen ‘n man en ‘n vrou. Vir die Christen is die huweliksverpligting sowel teenoor God as teenoor die gade, en behoort dit net tussen mense van dieselfde geloof aangegaan te word. Wedersydse liefde, eer, respek en verantwoordelikheid, is die raamwerk van hierdie verhouding, wat die liefde, heiligheid, nabyheid en bestendigheid van die verhouding tussen Christus en Sy Kerk weerspieël. Wat egskeiding betref, het Jesus geleer dat die persoon wat ‘n gade skei, behalwe oor egbreuk, en met ‘n ander trou, owerspel pleeg. Al sou sommige huwelike nie by die ideaal kom nie, kan huweliksgenote wat hul self ten volle aan mekaar oorgee in Christus, ‘n liefdevolle eenheid bereik deur middel van die leiding van die Heilige Gees en die versorging van die Kerk. God seën die gesin en wil hê dat die lede mekaar moet aanmoedig tot meer volkome volwassenheid. Ouers moet hul kinders so grootmaak dat hulle die Here liefhet en gehoorsaam. Deur hulle voorbeeld en hul woorde moet hulle hul kinders leer dat Christus ‘n liefdevolle tugmeester is, altyd teer en besorg, wat begeer dat hulle lede van Sy liggaam, die huishouding van God, word. Toenemende gesinsgehegtheid is een van die merktekens van die finale Evangelieboodskap (Gen. 2:18-25; Matt. 19:3-9; Joh. 2:1-11; II Kor. 6:14; Efe. 5:21-33; Matt. 5:31, 32; Mar. 10:11, 12; Luk. 16:18; I Kor. 7:10, 11; Ex. 20:12; Efe. 6:1-4; Deut. 6:5-9; Spr. 22:6; Mal. 4:5, 6).

24. Christus se Bediening in die Heiligdom

Daar is ‘n heiligdom in die hemel, die ware tabernakel wat die Here opgerig het en nie ‘n mens nie. Daar tree Christus vir ons in, en stel Hy tot die beskikking van die gelowiges, die voordele van Sy soenoffer wat Hy eens en vir altyd aan die kruis betaal het. Hy is ingehuldig as ons wonderlike Hoëpriester en het reeds Sy middelaarswerk met Sy hemelvaart begin. die aanvangs van die tweede en laaste fase van Sy versoeningswerk het in 1844 plaasgevind, aan die einde van die profetiese tydperk van 2 300 dae. Hierdie werk van ondersoekende oordeel is deel van die uiteindelike wegdoening van alle sonde, getipeer deur die reiniging van die ou Hebreeuse heiligdom op die Versoendag. Tydens daardie diens is die heiligdom deur die bloed van diereoffers gereinig, maar die hemelse weergawe word met die volmaakte offer van die bloed van Jesus gereinig. Die ondersoekende oordeel openbaar aan hemelse wesens wie onder die ontslapenes in Christus Jesus rus, en dus, in Hom, waardig geag word om deel te hê aan die eerste opstanding. Dit openbaar ook wie, onder die lewendes, in Christus bly, wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar, en dus, in Hom, gereed is vir Sy ewige koninkryk. Hierdie oordeel regverdigheid die bevoegdheid van God om diegene te red wat in Jesus glo. Dit verklaar dat diegene wat getrou aan God bly, die koninkryk sal ontvang. Die voltooiing van Christus se bediening sal die genadetyd van mensdom voor die tweede koms beëindig (Heb. 8:1-5; 4:14-16; 9:11-28; 10:19-22; 1:3; 2:16, 17; Dan. 7:9-27; 8:13, 14; 9:24-27; Num. 14:34; Ese. 4:6; Lev. 16; Openb. 14: 6, 7; 20:12; 14:12; 22:12).

25. Die Tweede Koms van Christus

Die wederkoms van Christus is die salige hoop van die kerk en die groot klimaks van die Evangelie. Die Heiland se koms sal letterlik, persoonlik, sigbaar en wêreldwyd wees. Wanneer Hy terugkeer, sal die regverdige ontslapenes opgewek word, en saam met die regverdige lewendes verheerlik en na die hemel geneem word, maar die onregverdiges sal sterf. Die byna volledige vervulling van die meeste profesieë dui daarop dat Christus se koms op hande is. Die tyd van daardie gebeurtenis is nie geopenbaar nie, en ons word vermaan om ten alle tye gereed te wees (Titus 2:13; Heb. 9:28; Joh. 14:1-3; Hand. 1:9-11; Matt. 24:14; Openb. 1:7; Matt. 24:43, 44; I Thess. 4:13-18; I Kor. 15:51-54; II Thess. 1:7-10; 2:8; Openb. 14:14-20; 19:11-21; Matt. 24; Mar. 13; Lukas 21; II Tim. 3:1-5; I Thess. 5:1-6).

26. Dood en Opstanding

Die loon van die sonde is die dood, maar God, wat alleen onsterflik is, sal die ewige lewe aan Sy verlostes toestaan. Tot daardie dag toe is die dood ‘n bewustelose toestand van alle mense. Wanneer Christus, wat ons lewe is, verskyn, sal die opgewekte regverdiges verheerlik en weggevoer word om hulle Here te ontmoet. Die tweede opstanding, die opstanding van die goddelose, sal ‘n duisend jaar later plaasvind (Rom. 6:23; I Tim. 6:15, 16; Pred. 9:5, 6; Ps. 146:3, 4; Joh. 11:11-14; Kol. 3:4; I Kor. 15:51-54; I Thess. 4:13-17; Joh. 5:28, 29; Openb. 20:1-10).

27. Die Millenium en die Einde van Sonde

Die millennium is die duisendjaar regering van Christus met Sy heiliges in die hemel, tussen die eerste en die tweede opstanding. In hierdie tyd sal die goddelose ontslapenes geoordeel word; die aarde sal totaal vervalle wees, sonder lewende menslike inwoners, maar deur die duiwel en sy engele bewoon. Aan die einde van die millenium sal Christus en Sy heiliges uit die hemel na die aarde neerdaal. Die goddeloses sal dan opgewek word en saam met die duiwel en sy engele die stad omsingel, maar vuur van God sal hulle verslind en die aarde reinig. Die heelal sal dan vir ewig van sonde en sondaars bevry wees (Openb. 20; I Kor. 6:2, 3; Jer. 4:23-26; Openb. 21:1-5; Mal. 4:1; Ese. 28:18, 19).

28. Die Nuwe Aarde

Op die nuwe aarde, in die woonplek van geregtigheid, sal God ‘n ewige, volmaakte tuiste vir die verlostes om in te leer en te lewe, en om liefde en geluk te smaak; hier sal God self onder Sy volk woon, en lyding en die dood sal daar nie meer wees nie. Die Groot Stryd sal verby wees, en die sonde sal daar nie meer wees nie. Alle dinge, lewend en nie-lewend, sal verklaar dat God liefde is, en Hy sal vir ewig regeer. Amen (II Pet. 3:13; Jes. 35; 65:17-25; Matt. 5:5; Openb. 21:1-7; 22:1-5; 11:15).